Ons Storie

Hy het al in Desember begin rondkyk vir ’n ring vir Marna. Die plan? ’n Romantiese verlowing op die strand in Mosselbaai met ń pragtige sonsondergang, maar toe werk niks soos beplan nie. Na ’n vakansie vol idees het hy uiteindelik ’n juwelier in Kaapstad opgespoor wat ringe ontwerp.

Leon se planne het verander, die ring weer laat aanpas, weer getwyfel in die styl en die tyd het begin nader stap voor sy vlug terug Amerika toe.
Marna dink toe dit is ń fantastiese idee om ń fotosessie by Kayla's Photography te boek vir hulle tweetjies voor Leon weer oor die water gaan. Hy’t onmiddellik geweet: dis nou of nooit! Hy reël agteraf met Kayla en Tannie Carolyn van Bezhoek om die verlowing daar te hou, die mooiste uitkyk punt. Hy vra toe vir Stefaans vir toestemming… tussen twee gholfputjies in.

Die ring het egter amper die hele plan laat ontspoor, die ring kom eers op die laaste oomblik aan in Sandton. In die gietende reën en spitsverkeer ry Leon en Johandré om die ring te gaan haal voor toemaak tyd. Maar toe Leon daai boksie oopmaak, weet hy, dit is PERFEK!

Met alles nou in plek, vra hy eers vir Tannie Ronel vir haar seën (sy bied hom eers sommer dadelik ’n sterk koppie koffie aan, want die man lyk blykbaar bleek), en toe val alles in plek.

Op die dag van die fotosessie is die lug donker en dreigend, maar die kamera klik en almal glimlag. Tot by die uitkykpunt… Marna maak haar oë toe soos gevra, en toe sy weer kyk, staan hy daar, een knie op die grond, ring in die hand. Sy huil, knik, sê ja… en net toe, stort die reën neer!
Sopnat en dolgelukkig.